“…Dit is 'n uiters problematiese aanname, veral in die lig van psigoanalitiese getuienis -voorafgegaan deur Arthur Schopenhauer se irrasionalistiese filosofie van die Wil in die 19de eeu -dat mense se handelinge veeleer deur onbewuste, begeerte-georiënteerde motiewe gedryf word as deur rasionele besluite, ongeag die mate van rasionaliserende regverdiging wat op 'n rampspoedige (dog oënskynlik-"rasionele") besluit mag volg. 'n Psigoanalitiese teoretikus en praktiserende doi.10.17159/2224-7912/2023/v63n1a7 psigoanalitikus soos Ian Parker (2011) demonstreer op oortuigende wyse die primaatskap van die onbewuste in psigiese manifestasies daarvan by werkers onder neoliberalisme vir sover dit in sekere kwasi-patologiese (byvoorbeeld obsessief-neurotiese) handelinge na vore kom (sien ook Olivier, 2013;2015;2018 in hierdie verband, en 2022 vir 'n tematisering hiervan in die konteks van die Covid-19-"pandemie"). Hierdie oorweging het ook implikasies vir Hofmeyr se deurlopende argument wat kenniswerkers se motivering betref: in plaas van die drieledige motivering wat sy aanbied (verwagtinge van werkgewers ten opsigte van werkers se produktiwiteit; beskikbaarheid van tegniese middele om feitlik deurentyd te werk; die wil om deurentyd te werk, gekoppel aan thumos, of vurigheid, en die gepaardgaande behoefte aan self-aktualisering), kan 'n mens aanvoer dat Parker 'n alternatiewe verduideliking aanbied, te wete die grootliks obsessief-neurotiese karakter van werkers in die konteks van neoliberalisme (sien ook Olivier, 2015;2018).…”