“…Komplekse met die algemene formule trans-[Rh(CO)X(L) 2 ] (X = halied of pseudo-halied; L = ariel of alkiel gesubstitueerde tersiêre fosforligand) word in baie gevalle verwys na as Vaskatipe komplekse (Ohgomori & Watanabe, 1990, Galding et al, 2016, Smoleński et al, 2011, Roodt et al, 2003, 'n naam wat verband hou met die werk van Vaska & DiLuzio, 1961 op die oorspronklike trans-[Ir(CO)Cl(PPh 3 ) 2 ] kompleks. Die geskiedenis agter die benaming is ietwat omstrede, aangesien Angoletta, 1959 alreeds die kompleks twee jaar voor die werk van Vaska en DiLuzio berei het, en selfs die rhodium-analoog was alreeds gerapporteer (Vallarino, 1957) en is in 'n mate deur Chatt en mede-werkers ondersoek (Winterton & Leigh, 2002).…”